Wednesday, December 17, 2008

raad gevra gegee

Ek's nog nie 75 nie, maar ek dink ek sal spyt wees oor dit wat ek nie gedoen het nie. Mens moet seker nie stupid wees nie, maar as ek moet kies tussen foute terwyl ek die murg uitsuig, en foutloos met die wrapping sukkel, dan kies ek elke keer die foute (net my opinie).

Wednesday, November 12, 2008

daar

aan die grense van my denke
aan die rand van my lag
teen die ruwe donker kranse
staan my wese en wag

waar my halwe hande in
gewikkelde eenvoud een
teen die ander die warmte
van my siel heen en weer leen

daar is tyd by my verby en het ek
vir 'n ewige oomblik omgegee.

Tuesday, October 14, 2008

...omdat jy 'n dromer is ... (18/8/90)

jou jong oë dra reeds die seer van
dit wat nog moet kom en die flikkerende
skugter-skaam van jou vinnige glimlag
laat my twyfel.

vir jou onskuld en vrees vir ek-weet-nie-wat-nou-nie
is my hart 'n leunstoel van gevoel
en verstaan en ek wens ek kon jou
weghou van die wêreld, want jy is goed -
maar wat sal die wêreld ook sonder jou wees?

uit jou alleenwees en droomwêreld straal jy my, die
ek wat ek so vrees, so liefhet, en
ek wens jy bly die jy wat so stil so
'n groot kamer in my hart betree het.

Thursday, October 9, 2008

lughawe

soms leef ek op 'n lughawe

met bondels mense meestal een een en alleen
meestal haastig besig om iewers te wag
meestal aangenaam oorbluf wanneer
iemand skielik groet meestal moeg.

dis 'n mengsel verwondering waar
elkeen dink almal kyk
waar die meeste voorgee dat hulle
hieraan gewoond is en waar
nie een van ons regtig wil wees nie.

ek's 'n optimis, glimlag die mollige meisie
by die ronde tafel terwyl sy 'n ysie in haar witwyn plons.
ek's suksesvol, kredietkaartkrabbel die club owner
met die aanhangers om die tafel langs my.
ek's hartseer, lees die vrou met die bril in haar
rooi boek oorkant my.
hierdie is my wereld en hier is ek koning,
dink die ou in die hoek terwyl hy stil wens
sy vlug is delayed, die vlug na die duur flat
met die koue vloere en die harde mure en die
great view.

Tuesday, September 30, 2008

ek dink aan jou

a penso a te en jy
is om my oor my deur my
jy spoel deur my vingers
en skyn deur my hemel
jy glinster in my nag en
jou oneindige oseaan dobber my
hart behoort aan jou en
dis altyd net jy
a penso a te.

Monday, September 29, 2008

alles

alles wat bang maak en
alles wat seer maak en
alles wat twyfel maak en
alles wat soek maak en
alles wat skemer maak en
alles wat leeg maak en
alles wat dood maak en
alles wat krom maak en
alles wat breek maak en
alles wat trane maak en
alles wat uiteindelik saak maak
maak mens moeg.

Saturday, September 27, 2008

sommer somer

ek skep stukke son in my halwe
hande en sprinkel strooi die blokkies
warm oor my lyf oor my bene my
arms draai bollings silwer strale
van die groot geel tol in die hemel
en ek weef vir my 'n somer
sykombers.