Tuesday, September 30, 2008

ek dink aan jou

a penso a te en jy
is om my oor my deur my
jy spoel deur my vingers
en skyn deur my hemel
jy glinster in my nag en
jou oneindige oseaan dobber my
hart behoort aan jou en
dis altyd net jy
a penso a te.

Monday, September 29, 2008

alles

alles wat bang maak en
alles wat seer maak en
alles wat twyfel maak en
alles wat soek maak en
alles wat skemer maak en
alles wat leeg maak en
alles wat dood maak en
alles wat krom maak en
alles wat breek maak en
alles wat trane maak en
alles wat uiteindelik saak maak
maak mens moeg.

Saturday, September 27, 2008

sommer somer

ek skep stukke son in my halwe
hande en sprinkel strooi die blokkies
warm oor my lyf oor my bene my
arms draai bollings silwer strale
van die groot geel tol in die hemel
en ek weef vir my 'n somer
sykombers.

Tuesday, September 23, 2008

wag

dis harde reen wat so aaneen buite
val
my woorde val so op hierdie blaai
aaneen
dis my hand wat krom aan die pen
vasklou
en die stoot stamp stippels oor die
gladde papier met die dowwe lyne
griffel
iewers in die nat nag wag iemand
alleen
ons wag almal - soms wag ons net.

Friday, September 19, 2008

ek onthou jou karoo

ek onthou hoe die sneeu in die winter om die swartberg kon vou
hoe die son in die somer sulke kreukels oppie oerberg se sye skilder
dat 'n mens se o'e' klein skrefies getuur jou in die verte oor die vlakte
sou wysmaak dat daar iewers tussen granaatbosgeel en
hondepisbosvaal nog wie weet hoeveel ander kleure moet wees

ek onthou van die koue se brand op wintersoggende as jou asem
in jou mondholtes wegkruip vir die byt wat anderkant jou tande wag

of die somersdae se stoltes van vuur op die warmste tyd net voor
die wattewolwit cumulus-kastele met weerlig in die een hand en emmers vol
water in die ander met gekreun en kanonvuur op die stoomwarm teerstrate
laat spat spartel klein stroompies groot walle van water wat kwaad en
modderbruin na die klein kykers op oewers gryp en skielik verdwyn

ek onthou stukkies gedagtes troebel poele van moes wees kon wees en wou
van reuke en geure en growwe klippe en uiteindelik van jou.

Wednesday, September 17, 2008

vat

vat my hande kom saam met my
ons gaan hier by die heelal verby
die son is ons kompas en die maan metronoom
en ons lag dring helder tot die man wat daar woon.

skuins venster

langs die verslete painting met die stukkende raam
hang 'n skuins venster met 'n pad en karre wat rukkerig ry.
langs die pad met die gladde swart teer
loop 'n stofstukkie voetkronkel met mense op.
langs die dofvaal voetpaadjie met die duidelike draai
pryk 'n natgroen grasmat met blomme op.

dis daardie goudgeel klawergras huppellag stergesig
blommetjie
wat vanuit die grasmat oor die voetpad teen die teerpad
deur die skuins venster na die painting loer.

Tuesday, September 16, 2008

opskrif

vandag klim die son skurwe vingers oor die
growwe stellenbosch berge en skyn krapperig
waar ek blind probeer kyk.

my kyk is skrikkerig en my sien is skaam en
iewers wag die wonderwete van verlang.

somergedagtes val sagte hande oor die
stilseer gebergtes van hierdie skemerland en 'n
warm son druk my rug in die regte rigting.