Friday, September 19, 2008

ek onthou jou karoo

ek onthou hoe die sneeu in die winter om die swartberg kon vou
hoe die son in die somer sulke kreukels oppie oerberg se sye skilder
dat 'n mens se o'e' klein skrefies getuur jou in die verte oor die vlakte
sou wysmaak dat daar iewers tussen granaatbosgeel en
hondepisbosvaal nog wie weet hoeveel ander kleure moet wees

ek onthou van die koue se brand op wintersoggende as jou asem
in jou mondholtes wegkruip vir die byt wat anderkant jou tande wag

of die somersdae se stoltes van vuur op die warmste tyd net voor
die wattewolwit cumulus-kastele met weerlig in die een hand en emmers vol
water in die ander met gekreun en kanonvuur op die stoomwarm teerstrate
laat spat spartel klein stroompies groot walle van water wat kwaad en
modderbruin na die klein kykers op oewers gryp en skielik verdwyn

ek onthou stukkies gedagtes troebel poele van moes wees kon wees en wou
van reuke en geure en growwe klippe en uiteindelik van jou.

No comments: